Saterdag 28 Oktober 2017

Die Onfeilbare Teenwoordigheid

Gen. 28:15  En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.

Dit is die eerste van baie beloftes van God se onfeilbare teenwoordigheid in die lewens van diegene wat Hom vertrou. Dit is wat die Here aan Jakob gesê het toe hy besig was om te vlug van die ongeregverdigde toorn van Esau. Let ook op God se belofte aan Josua: “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5)
 Daar is ook Sy belofte aan Sy uitverkore volk, Israel: “Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom ‘n volk te maak.” (1 Sam. 12:22) Daar is baie ander soortgelyke beloftes in die Skrif. Een wat veral God se hart openbaar, is Jesaja 41:17, “Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die HERE, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.”
 Die kosbaarste van almal is egter die versekering aan alle Nuwe Testamentiese gelowiges Hebreërs 13: 5: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Na ‘n baie  vermoeiende lys van uitdagings in Paulus se lewe verklaar hy ook in Romeine 8:39 “(niks) ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie.” “En kyk, Ek is met julle”, het Jesus in Mattheus 28:20 gesê, “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”  

Sondag 15 Oktober 2017

Vrede

Vrede is een van die mees essensiële Christelike waardes, maar wat baie Christen ontbreek. Net soos liefde, is vrede nie net ‘n emosie nie, maar ‘n oortuiging van die hart. Die Bybel sê eerstens in Efesiërs 2:14 dat Jesus ons vrede IS. Dis nie ‘n saak van staat (toestand) nie, maar van status (stand). Vir Jesus om ons vrede te wees, moes Hy alle vorme van vyandskap wat daar tusen God en die mens was verwyder en ons met God versoen deur die vyandskap tot niet te maak. Jesus het dit volkome gedoen deur Sy kruisdood en opstanding en ons daardeur toegang tot die Vader gegee. Die Bybel sê tweedens dat Jesus deur sy teenwoordigheid in ons interaksie met ander Christene vir ons vrede BEWERK. In 1 Kor. 14:33 leer ons dat God nie ‘n God van wanorde is nie, maar van vrede “soos in al die gemeentes van die heiliges”. Die Here se teenwoordigheid in ons gemeentelike byeenkomste is ‘n bron van vrede vir ons. Die gemeenskap van die heiliges bewerk vrede in ons harte omdat ons met ander te doen het wat ons liefhet. Die Bybel sê ook laastens dat Jesus se bediening aan ons, ons vrede BEWAAR. Paulus leer ons in Ef. 2:17 dat “Hy (het) die evangelie van vrede kom verkondig” het. Jesus het pertinent gekom om ons vrede te kom gee deur ons toegang te gee “deur een Gees tot die Vader”. Omdat Jesus daagliks vir ons intree by die Vader, word ons vrede bewaar. In Filippense 4:6-7  kry ons die opdrag, “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” Jesus is, bring en bewaar vrede in ons harte en gedagtes al voel ons nie die vrede nie. Vrede in ons lewens is dus as gevolg van die teenwoordigheid en bediening van Jesus in ons lewens en nie bloot net ‘n emosie of gevoel nie, dit is die wete (innerlike oortuiging) dat God in beheer is. Wat ookal gebeur, die Here Jesus is by ons om ons op elke lewenservaring te vergesel en om ons vrede te gee en dit te bewaar. 

Maandag 15 Mei 2017

Vir Mammas


Geen Ma is perfek nie.

Maar dis die krakies en plootjie en gewoontes wat haar uniek maak. 

‘n Ma se liefde is onvoorwaardelik.

Anders as ‘n uurglas loop die sand van vergifnis nooit leeg nie. 

Sy her-brei jou “knoei-serp” en stik jou strandsak vir Naaldwerk klas. 

Sy sit vir ure in ‘n koue saal terwyl jy aan gimnastiek kompetisies deelneem. 

‘n Ma raap-en-skraap en spaar vir jou ontwerpers matriekafskeid rok en later jou droom trourok. 

Sy gesels vir ure met jou oor die foon, waar jy vir jare lank in jou eie vreemde, verre land bly.

‘n Ma vee trane af en troos, al is haar dogter self al ‘n Ma. 

Dit alles en meer is my ma!

Donderdag 20 Oktober 2016

TEVREDENHEID

Hierdie kort reeks fokus op daardie Bybelse eienskappe wat eie behoort te wees aan Christene.  

In Spreuke 30:7-9 het Salomo die volgende gesê: “Twee dinge vra ek van U;  onthou dit nie aan my voordat ek sterf nie.  Hou valsheid en leuentaal ver van my af;  gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestemd is;  dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die Here:  En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie”
Toe God vir Salomo gevra het wat Hy vir hom kon gee, het Salomo geantwoord en gevra vir ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor die volk en om tussen goed en kwaad te onderskei (1 Kon. 3:5-14).  Jabes het gevra dat God hom ryklik moet seën en sy grondgebied vermeerder en dat God se hand met hom moet wees en dat God die onheil van hom moet afweer sodat geen smart hom sou tref nie (1 Kron. 4:9-10).  Wat sou jy van God gevra het?
Ons moet leer om ons gebedsversoeke te rig met wat te doen het met ons karakterbou en lewensomstandighede.  Vra eerstens vir God om jou te help om nie te sondig nie en om jou van trots en oneerlikheid te verlos.  As ‘n persoon wat na tevredenheid (vergenoegde) streef, vra Hom dan om jou nie armoede of rykdom te gee nie.  Beide hierdie uiterstes kan ons in versoeking lei.  Aan die een kant kan armoede veroorsaak dat ons teen God murmureer;  en aan die ander kant kan ons in ons rykdom onafhanklik van God raak.
Ontevredenheid verhinder ons om te geniet dit wat God alreeds vir ons gegee het.  Dit vat slegs ‘n druppel asyn om ‘n glas melk suur te maak.  Wees versigtig vir so ‘n gesindheid van ontevredenheid in die huis, by die werk of in die kerk.  Ontevredenheid oor hoe ons lyk, wat ons aantrek, ons inkomste, ongemak en selfs omstandighede waarmee ons te doen kry soos byvoorbeeld die weer, kweek ongelukkigheid.
Paulus is deur verskeie beproewinge getoets.  Hy was in die tronk, het skipbreuk gely, was honger en dors (2 Kor. 11:24-27);  maar selfs in die tronk het hy geskryf: “Nie dat ek dit sê uit gebrek nie, want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is” (Fil. 4:11). 
 Die Bybel sê: “Maar die godsaligheid saam met vergenoegdheid is ‘n groot wins” (1 Tim. 6:6). God mag dalk rykdom aan ons toevertrou of ons mag dalk met armoede beproef word, maar in beide gevalle moet ons Hom vertrou en Sy genade moet vir ons genoeg wees.  Ons het met niks in die wêreld gekom nie en ons sal die wêreld met niks verlaat nie.  Ons moet dus tevrede wees dat ons kos het om te eet en klere het om aan te trek.
Die vergenoegde persoon lewe deur geloof in die beloftes van God en bewys dat God in staat is om al sy behoeftes te vervul na die rykdom in heerlikheid deur Christus Jesus – (Fil. 4:19). Op sesjarige ouderdom het Fanny Crosby as gevolg van ‘n doktersfout blind geword en op agtjarige ouderdom skryf sy: 
“O what a happy child I am
Although I cannot see
I am resolved that in this world
Contented I will be.
In 1 Tim. 6:17 waarsku Paulus ons: “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet”. Laat ons die gesindheid van vergenoegdheid by Dawid aanleer en saam met hom getuig: “Die Here is my Herder;  niks sal my ontbreek nie” (Ps. 23:1).

[Met vergunning vertaal en aangepas uit die Herald of Hope tydskrif]

Sondag 25 September 2016

Besorgdheid en Bekommernis

Ons almal raak een of ander tyd besorg oor een of ander saak. Die druk by die werk, die welstand van ons kinders, die toestand in ons land, die leefstyl van ander wat vir ons lief en dierbaar is en ons finansiele posisie. Wat dit ook al mag wees, ons is besorg en soms sommer lekker bekommerd daaroor. Hierdie gevoelens veroorsaak dan problem vir ons. Neem asb. kennis dat alle besorgdheid is nie noodwendig sondig en verkeerd nie, maar as dit nie reg hanteer word nie, kan dit oorgaan in sonde. Die Bybel tref ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n opregte besorgdheid  en ‘n sondige bekommernis, maar gebruik dieselfde Griekse basis woord “merimna” in albei gevalle.  Paulus gebruik ‘n soortgelyke woord in Filippense 2:20 as hy na die opregte tipe besorgdheid verwys wat Timotheus gehad het deur sy “belange opreg (te) behartig” (merimnysei). In 1 Korintiërs 12:25 gebruik Paulus ook ‘n soortgelyke woord as hy opdrag gee dat gemeentelede “gelyke sorg” (merimnousin) vir mekaar moet dra. Paulus sê in 2 Korintiërs 2:28 dat hy, ten spyte van sy persoonlike uitdagings, ook nog die “daaglikse bekommernis (merimna), die sorg vir al die gemeentes” ook het.  Hierdie gevoelens is ‘n opregte omgee vir die belange van ander.

Die sondige tipe bekommernis waarna die Bybel verwys, gebruik dieselfde Griekse woord “merimna”, maar die konteks verskil. Jesus het in Mattheus 6:25  gesê: “Moenie julle kwel (merimnate) oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie”. Jesus het ook in die gelykenis van die saaier verwys na die “sorge van hierdie wêreld” (Mark. 4:19) as ‘n slegte ding en in Lukas 10:41 na Martha verwys as “besorg (merimnate) en verontrus oor baie dinge” en dat sy dus ‘n slegte gesindheid gehad het. Paulus se opdrag in Filippense 4:6 is “Wees oor niks besorg (merimnate) nie, wys ook na ‘n sondige gesindheid. Die sondige tipe bekommernis is dus die oor-angstige besorgdheid oor die toekoms en dinge wat nie verander kan word nie. Bekommernis is onproduktiewe gedagtes (dagdromery) wat heeltyd probeer om die toekomstige uitkomste te probeer verander. Dit is sondig as sulke gedagtes beheer neem van jou en nie andersom nie. Dit gaan gepaard met die afskeep van verantwoordelikhede, moedeloosheid en hopeloosheid.


Sondige bekommernis veroorsaak slaaploosheid, vergeetagtigheid, gespannenheid en onrustigheid. Hierdie gesindheid veroorsaak dat ons kortaf is met ander en oorkrities van ander mense is en alles wil beheer. Ons sien ander se foute raak en deurdink en oordink hulle foute en probeer ten alle koste die blaam verskuif. ‘n Vinniger hartklop, ongestelde maag en dagdromery veroorsaak dat min werk gedoen word, alhoewel daar baie is om te doen.  As enige van hierdie bostaande simptome gereeld voorkom, kan ons met ons leraar daaroor praat en leer om reg te bid (Fil. 4:6,7), reg te dink (Fil. 4:8) en regop te tree (Fil. 4:9).

Maandag 12 September 2016

Naomi – Van Onguns na Guns Deur Die Here Se Genade Rut 1-4

In die boek Rut lees ons van die lewensverhaal van Naomi. Haar lewe is ‘n toonbeeld van ‘n lewe wat, a.g.v. die Here se genade, van onguns na guns beweeg.  Doen jouself ‘n guns en lees eers deur die boek van Rut, voordat jy hierdie artikel lees.

Die eerste ding wat ons sal leer van die lewe van Naomi, was dat haar drome aan skerwe gelê het. Die eerste hoofstuk vertel ons van ‘n knellende hongersnood in die “beloofde” land – dit is waar die verhaal begin (1:1a). Die hongersnood het haar man, Elimeleg, onder druk geplaas en hy het besluit om weg te trek van Betlehem (wat brood beteken) – weg van die land wat brood beteken (1:1b), na vreemdeland, ‘n heidense land (1:1c). Naomi en het twee seuns gehad, maar baie vroeg in die verhaal leer ons dat Elimeleg, die broodwinner, afsterwe (1;3), wat beteken dat Naomi as weduwee alleen bly in Moab. Dit was nie ‘n goeie besluit om so weg te trek nie, want nou is sy vrou in ‘n heidense land alleen agtergelaat en boonop het beide hulle seuns met heidense (nie-joodse Moabietiese) vroue getrou (1:4). In daardie tyd kom ook haar twee seuns, Maglon (wat sieklik beteken) en Giljon (wat gedaan beteken) tot sterwe (1:5). Wat nou gemaak? Naomi bevind haar in ‘n vreemde land sonder haar familie, sonder haar man en sonder seuns wat vir haar kan sorg. Al wat sy oorgehad het was twee heidense dogters en hongersnood. Sy het ook desperaatlik probeer om haar skoondogters weg te stuur. Sy het God geblameer vir haar omstadighede (1:13b; 1:22).

Kom ons staan terug ‘n bietjie en dink aan die ongunstigheid van hulle omstandighede. Haar lewe is ten sleg geaffekteer deur hongersnood wat ‘n fisiese swakheid/behoefte in die liggaam te weeg. Daarmee saam moes sy eensaamheid ervaar het wat geestelike swakheid en pyn in die hart te weeg bring. Verder het sy ook haar desperaatheid in die situasie te kenne gegee, want sy moes staatmaak op die mense van die land om vir haar te sorg. Die blaam wat sy na die Here toe verskuif, wys ook hoe bitterheid en depressie in haar lewe ingekom het. Ek glo nie enige een van ons kan onsself in erger omstandighede indink as die waarin hierdie drie vroue hulle bevind het nie. ‘n Ware hopelose situasie!! Is daar enige iets goeds wat hieruit kan voortkom? Is daar enige hoop vir haar?

Die 1ste tekens van hoop (1:6) was dat sy gehoor het dat die Here  op sy volk ag gegee het deur aan hulle brood te gee.” Met ander woorde, die Here wat die volk deur middle van hongersnood gestraf het, het besluit om hulle weer te seen. Die 2de teken van hoop (1:16-17) was die jong heidense skoondogter Rut wat to bekering gekom het en besluit het om haar heidense geloof te verlaat om God alleen te dien. “Maar Rut het gesê:… waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.”  Die 3de teken van hoop (2:1-23) was dat Naomi ‘n het ‘n “bloedverwant gehad van haar man se kant, ‘n vermoende man…”. Dit het beteken dat alhoewel sy op moedverloor se vlakte is, het sy iemand gehad wat vir haar kon sorg. Die 4de teken van hoop (2:3-23) is een van die mooiste liefdesverhale in die Bybel. Boas raak verlief op Rut en Naomi help haar om deur die situasie te kom en uiteindelik met Boas te trou.  

Naomi het vanuit uiters slegte lewensomstadighede beweeg na ‘n plek waar die Here vir haar voorsien het. Die Here het in haar honger en haar behoefte na fisiese brood voorsien. Die Here kan die ongunstige omstandighede van honger omskakel na versadiging. Joh. 6:35  En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie. Die Bybel sê in Rom. 8:35  dat as ons Christus het, dat ons nie deur honger geskei kan word van Hom nie… “Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?” Om die waarheid te sê, as ons Christus het, sal ons honger versadig word en die behoefte omgeskakel word in gelukkigheid of saligheid. Jesus het in Lukas 6:21 gese: “Salig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Salig is julle wat nou ween, want julle sal lag”.

Die Here het haar eensaamheid weggeneem omgeskakel deur vir haar ‘n nuwe familie te gee, met ‘n toegewyde skoondogter en ‘n welgestelde “skoonseun”, in Boas. Boas sou vir haar sorg en Naomi het haar raad gevolg en vir haar liefde gewys en vir haar gesorg soos geen seun dit kon gedoen het nie.Die Here het ook haar desperaatheid omgeskakel in vasberadenheid, want waar sy aanvanklik haar skoondogter wou wegstuur, het sy nou haar skoondogter kon lei en raadgee. Sy het ‘n selfs die aangenome ouma van Obed, Rut se seun, geword.Laastens, het die Here haar depressie en bitterheid omgeskakel in vreugde en seening. Hoor wat se die vroue vir Naómi (4:14-15) “Geloofd sy die HERE wat aan jou vandag ‘n losser nie laat ontbreek het nie! En mag sy naam in Israel geroem word! Hy sal vir jou een wees wat jou siel verkwik en jou grysheid versorg; want jou skoondogter wat jou liefhet, het hom gebaar, sy wat vir jou meer werd is as sewe seuns.

Dit is moontlik dat die ongunstige omstandighede van die fisiese behoeftes van die lewe, eensaamheid, desperaatheid of depressie ‘n houvas kry op jou lewe. Jou vraag is dan – IS DAAR HOOP? Die Here kan in al ons fisiese en geestelike behoeftes voorsien met baie van die alledaagse dinge wat ons as van selfsprekend aanvaar. Kyk om jou… tel jou seeninge… raak betrokke, want daar is hoop!

Maandag 05 September 2016

Waar bevind jy jouself vandag?

Ek deel met julle die persoonlike bemoediging wat uit die hart van broer Gideon Cillié kom.

Liewe vriende

Ek het vanoggend die gedeelte in Lukas 7:18-23 gelees, en baie goeie perspektief daaruit gekry, wat ek graag met julle wil deel. Ek glo ons almal vind ons van tyd tot tyd op plekke waar ons vertwyfeling ervaar.

Die gedeelte vertel die verhaal van Johannes die doper wat in die tronk is (nadat hy kritiek uitgespreek het teen Herodes omdat dié ‘n verhouding met sy broer se vrou begin het). Hy het natuurlik die volk Israel gewaarsku om hul te bekeer omdat die Messias (Jesus) aan die kom was, en selfs aan mense verkondig “Aanskou die Lam van God, wat gekom het om die sondes van die wêreld weg te neem”. Hy het Jesus gedoop en eerstehands gesien hoe God, die Vader, Jesus as sy seun identifiseer en hoe die Heilige Gees neerdaal op Jesus. Hy was dus sonder enige rede vir sy vertwyfeling dat Jesus die Messias was.

Tog in hierdie gedeelte stuur hy sy dissipels om by Jesus te gaan uitvind of Hy dan die Messias is. Hoe het dit gebeur? Van absoluut seker na onseker? Was Johannes dan verkeerd? Jesus se antwoord aan sy dissipels is nogal interessant. Hy sê aan hulle om vir Johannes te gaan vertel wat hulle gesien het (Jesus se wonderwerke). Hoekom het Hy nie net ‘n persoonlike boodskap aan Johannes gestuur om hom te bemoedig nie? Iets soos “Johannes jy is okay, Ek is die messias, jy was nie verkeerd nie.” Jesus kies om Johannes te wys op die magtige dade wat Hy gedoen het.

Dalk voel jy ook vandag dat jy in die “tronk van jou omstandighede” sit en dat jy seker iewers verkeerd geluister het toe God jou gestuur het om iets te doen in jou lewe. Jy twyfel soos Johannes skielik of Jesus dan werklik nog daar is en of Hy tevrede is met wat jy gedoen het.

Hierdie gedeelte leer ons om te fokus op God se werke. Interessant genoeg is Jesus se boodskap een wat die aandag vestig op Sy werke in ander se lewens (nie in Johannes se eie lewe nie). Om die regte ding te doen kos jou baie keer ‘n duur prys, maar fokus op God se werke en word bemoedig en weet verseker dat God steeds omgee vir jou. Jesus kon selfs die dissipels weggestuur het en gesê het “Johannes hoe kan jy van alle mense twyfel? Jy het immers die Heilige Gees van kindsdae af, jy het My gedoop, My hoor preek, hoe twyfel jy dan?”

Instede daarvan stuur Hy die bemoedigende boodskap. Moenie bekommerd wees nie Johannes, alles verloop volgens My plan. Jy sien dit nie dalk nou nie, maar Ek is steeds in beheer.

Mag elke een van julle’n wonderlike dag vol van God se bemoedigende vrede hê.

Groete in Christus.

Gideon Cillié