Woensdag 20 Februarie 2019

Psalm 2 - Nie-Bedreigende Outoriteit

‘n Messiaanse Psalm want dit wys iets van Jesus voor hy nog gekom het. Ek besef dat ek nie rerig gemaklik is met verantwoordelikheid en outoriteit nie. Dis nie lekker om gesê te word wat ek moet doen en aan ander se verwagtinge te voldoen nie. Dis nog slegter as ek hoor ek het iets verkeerd gedoen of om te voel ek voldoen nie aan ander se standaarde nie. “Ons wil (eerder) vry word, ons wil nie meer dien nie. Ons wil die toue stukkend breek waarmee hulle ons vasgemaak het.” Soms voel ek daar is nie ‘n uitkoms nie, my lewe word deur iemand anders beheer, gedomineer en gemanipuleer en dit maak gevoelens van opstandigheid in my wakker. Die wonder van Jesus Christus is dat God Hom as gesalfde ge-oormerk het om die nie-bedreigende outoriteit in my lewe kan wees.

Psalm 1 - Nie-ooglopende Voorspoed

Ons voorspoedigheid is nie altyd ooglopend nie. Ek sukkel soms om te onderskei tussen die voorspoedigheid van die Christen en nie-Christene. Hoe kan ons anders as om mismoedig te voel as dit lyk asof daar nie rerig 'n voordeel is in Christenwees nie. Dit is boonop harde werk. Ek kan dus verstaan dat ons en ons kinders begin moed verloor en eerder ingee onder druk. Dis dan wanneer ons geloofsperspektief vernou. Ons soek sigbare voorspoed. Ek moet myself en my kinders gereeld herinner dat die Christen-lewensboom wat by 'n waterstroom staan is nie gesteld op selfpreservering nie, maar gooi n skaduwee waaronder reisigers kan rus. So 'n boom dra vrug wat ander se honger en dors les. Die voorspoedigheid van so n boom is nie in uiterlike welvaard en populariteit onder vriende nie, maar die voordeel is  in die innerlike waterbron en lewenskragtigheid wat die Gees van God verskaf. Dalk sien niemand dit raak nie, maar God sal sorg dat jy staande bly.

Sondag 20 Mei 2018

Pinksterdag 20 Mei 2018

Vandag vier ons die wonderlike dag toe die Heilige Gees uitgestort is, volgens Jesus se belofte in Joh. 16:7, en die kerk begin het, volgens die belofte in Hand. 1:8. Die Skrif is duidelik daaroor dat die Kerk op Pinksterdag begin het toe die dissipels met die Heilige Gees gedoop is. Die waterdoop van Gelowiges het ook op Pinksterdag begin toe 3,000 mense wat die evangelie gehoor het geglo het, gedoop is en by die nuwe gemeente gevoeg is. Dit was die heel eerste keer ooit dat so iets gebeur het.

Die uitstorting van die Heilige Gees is die begin van die kerk en die begin van God se nuwe plan vir nuwe mense. Die ou dinge is waarlik verby en die nuwe dinge het gekom. Dit is wat ons vandag vier – ALLE NUWE DINGE. Die Kerk, wat geseën is met die innerlike werk van die Gees van God, is God se nuwe plan vir ons in hierdie tydperk van Genade. Een van die seëninge van hierdie nuwe plan is dat ons deel het aan die “lewensap van die wortel van die olyfboom” (Israel) (Rom 11:17). Dit is die geestelike lewenskrag van God wat werk in ons lewens. Dit beteken prakties dat ons getuies kan wees van God se werk in ons lewens (Hand. 1:8), dat ons insig kan he om God te ken (Ef. 1:18), dat ons in ons siele versterk kan word as ons swaarkry (Ef. 3:16), dat ons deur die Gees gelei kan word (Rom. 8:14) en dat ons vry kan wees (2 Kor. 3:17). Daar is nog baie ander dinge wat die Gees vir ons doen, maar die belangrikste is dat ons NUWE dinge kan ervaar deur Sy krag.

Vier jy vandag nuwe dinge of sit jy vas in die tradisie van die ou dinge?

Sondag 06 Mei 2018

In die stal van Jesus

Joh 10:14-16  Ek is die goeie herder, en Ek ken my eie en word deur my eie geken.  (15)  Net soos die Vader My ken, ken Ek ook die Vader; en Ek lê my lewe af vir die skape.  (16)  Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder.

Die dag toe Jesus sy dissipels geleer het dat Hy die "goeie Herder" is, het Hy nie bloot aan hulle 'n konsep oor sy eie bediening in hulle lewens oorgedra nie. Hy het hulle geleer wie hulle in Christus is.

Vincent's Word Studies haal Thomson aan soos volg: “The low building on the hill-side which we have just passed, with arches in front, and its enclosure protected by a rubble wall and thorny hedge, is a sheepfold or marah.... The marahs are generally built in a valley, or on the sunny side of a hill, where they are sheltered from the winter winds. In ordinary weather the sheep and goats are gathered at night into the enclosed yard; but when the nights are cold and stormy the flocks are shut up in the marah. The sharp thorn-bushes on the top of the wall that surrounds the yard are a defense which the prowling wolf will rarely attempt to scale. The leopard and panther of this country, however, when pressed with hunger, will sometimes overleap this thorny hedge, and with one bound land amongst the frightened fold” (“Central Palestine and Phoenicia,” p. 591).

Met ander woorde, Jesus was besig om sy dissiples te leer dat hulle die kerk moet sien as 'n splinternuwe beweging wat nie staatmaak op die georganiseerde en alles-in-plek samekomste van die Joodse geloof nie, maar 'n organisme wat hulle bestaan uitsluitlik te danke het aan die Herder se sorg vir hulle. Elke Christen wat in die Nuwe Testament tydperk tot geloof in Jesus Christus gekom het behoort nou aan die STAL van Christus en is afhanklik vir hulle oorlewing aan Hom. As die kerk homself oortuig dat sy bestaan en oorlewing in sy eie hande of in sy eie vermoe om te organiseer en struktureer gefundeerd is, dan is dit die eerste tree na afsterwe.

Sondag 26 November 2017

Vrees nie die dood

Vertaal uit C.H. Spurgeon se Morning and Evening boek bl. 222

Kind van God, die dood het sy angel verloor omdat die duiwel se mag daaroor vernietig is. Hou dan op om die dood te vrees. Vra genade van God dat hy jou deur 'n intieme kennis en 'n vaste oortuiging van jou Verlosser se dood versterk kan word vir daardie uur. Om naby die kruis van Golgota te bly, is om met belangstelling aan die dood dink, en dit  te verwelkom met blydskap. Dit is ‘n seëning om in die Here te sterf. Die dood is nie meer ‘n ballingskap nie, dit is 'n terugkeer uit gevangenis, 'n huis toe gaan na die baie wonings waar ander geliefdes reeds woon. Die afstand tussen die wat reeds in verheerlikte liggame wag in die hemel en die strydende heiliges op aarde lyk oorweldigend groot, maar dit is nie so nie. Ons is nie so ver van ons ewige tuiste af nie - 'n oomblik bring ons daar. Die seile is reeds gespan en die siel het reeds op die oop waters uitgevaar. Hoe lank sal die reis wees? Hoeveel moeisame winde sal die seile moet trotseer, voordat dit land in die hawe van vrede? Hoe lank sal daardie siele oor en weer op die golwe geslinger word voordat dit kan anker in die see wat geen storms ken nie? Luister na die antwoord, dit kom as ons "afwesig van die liggaam (en) teenwoordig by die Here" is. Daardie skip wat pas vertrek het, het reeds sy hawe in sig. Dit het maar skaars sy seile gespan en dit was daar. Soos die skip van ouds, aan die meer van Galiléa, het 'n storm dit rondgeslinger, maar Jesus het gesê: "Vrede, wees stil," en dadelik het hulle gearriveer. Moenie dink dat 'n lang lewensloop die tydsduur tussen die dood en die ewigheid van glorie sal belemmer nie. Wanneer ons die oë op die aarde sluit open ons dit in die hemel. Die vuurperde wat ons weg versper is maar 'n oomblik op die pad. Kind van God, wat is daar dan te vrees wat betref die dood as die vloek en angel daarvan deur die dood van jou Here vernietig is? 

Donderdag 09 November 2017

God sal jou nooit ooit verlaat nie

Deut. 31:6 “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”

Die belofte dat God nooit sy volk sal verlaat nie kom dikwels in die Skrif voor. Hier gee Moses die belofte eers aan die kinders van Israel en toe aan Josua persoonlik. In werklikheid het dit begin by die belofte wat God aan Jakob gemaak het toe hy sy God-geordende rol moes aanvaar het “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” (Gen. 28:15) Dit is weer aan Josua herhaal. “Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie… Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” (Jos. 1:5) Dawid het dieselfde belofte aan Salomo oorgedra toe hy as koning verantwoordelikeid aanvaar het vir die bou van die groot tempel.  “Wees sterk en vol moed, … Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het” (1 Kron. 28:20). Dalk is daar iets wat jy in die naam van die Here moet gaan doen, maar jy weet nie hoe en waar jy die moed vandaan sal kry nie.  Jy kan vandag vertroosting vind in dieselfde wonderlike belofte van Hebreërs 13: 5. “Want Hy het gesê: Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.” Ons kan ook met vrymoedigheid sê soos verse 6 verklaar: “Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” Wat vers 5 so merkwaardig maak, is die feit dat daar in die Grieks vier verskillende dubbelle negatiewe stellings gebruik word in een vers. Letterlik vertaal verklaar vers 5: “Nooit ooit, Ek sal jou nooit ooit begewe en nooit ooit jou verlaat nooit ooit.” Dit is sekerlik een van die “grootste en kosbare beloftes” (2 Petrus 1: 4) wat God aan ons gee.

Donderdag 02 November 2017

Ons het tot hier gekom

Deut. 26:7-9  Toe het ons die HERE, die God van ons vaders, aangeroep; en die HERE het ons stem gehoor en ons ellende en ons moeite en ons verdrukking aangesien;  (8)  en die HERE het ons uit Egipte uitgelei deur ‘n sterke hand en ‘n uitgestrekte arm en deur groot skrikwekkende dade en deur tekens en wonders;  (9)  en Hy het ons na hierdie plek gebring en ons hierdie land gegee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.

Voel jy dalk ook dat hierdie jaar eenvoudig net te lank is? Of dalk het jy al teruggekyk na die laaste jaar en byna moed verloor omdat jy voel dat jy misluk het. Luister na die volgende trooswoorde uit ‘n ongewone oord. Moses sê in Deut. 26:9: “God het ons tot hier gebring...”  Dit was Moses se woorde toe hy tussen die ander leiers van Israel gestaan het en hulle wou lei om, ten spyte van hulle sonde en mislukkings in die verlede, die werk van die Here te ondersteun met hulle aardse besittings. Dit is natuurlik maklik om verantwoordelikheid te neem en suksesvol te wees as alles goed gaan en daar is geen uitdagings nie, maar ons almal weet dit werk nie so nie. Hoor wat bely Moses in Deut. 26:6  “Maar die Egiptenaars het ons mishandel en ons verdruk en ‘n harde diens op ons gelê.” Die Egiptenaars het die lewe vir hulle moeilik gemaak en glo my daar is ‘n hele paar “Egiptenaars” wat agter jou aan is om jou lewe vir jou moeilik te maak. Wat doen ons moet hulle? Wel, die antwoord wat Moses bied is ietwat ongewoon. Hy verklaar dat as hulle gee van hulle aardse besittings soos die Here voorgeskryf het, sou die Here ‘n verklaring oor hulle maak en hulle groter maak as enige ander nasie en hulle lof en eer gee. 

Liewe vriende, God het ons tot hier gebring, laat ons dit nie vergeet as ons gee van dit wat ons van die Here ontvang het nie, soos bv. ons tyd, finansies en talente/gawes. Laat ons Hom ook hierin gehoorsaam wees.