Volgens CANSA statistieke, word 14 miljoen mense wêreldwyd, elke jaar met kanker gediagnoseer. 90% van alle kankers word veroorsaak deur omgewing- en leefstylverwante faktore, soos bv. rook, dieet en oefening. Meer as ‘n 100,000 Suid-Afrikaners word elke jaar met kanker gediagnoseer. 6 uit 10 Suid-Afrikaners oorleef die gevreesde siekte deur behandeling. 1 uit elke 4 Suid-Afrikaners word op een of ander manier deur kanker geraak, hetsy deur eie ervaring of deelname aan die ervaringe van ‘n familielid of vriend.
Sonder uitsondering, is die diagnose van kanker en die daaropvolgende prognose traumaties en ontnugterend vir enige mens. Behalwe vir die feit dat dit ‘n ontbloting is van ‘n mens se privaatheid, voel dit in baie gevalle soos ‘n mini-doodsvonnis en die einde van ons lewenspad.
So het dit ook gevoel vir June Hunt, die skrywer van die boek CARING FOR A LOVED ONE WITH CANCER, toe haar geliefde oom Charles die nuus gekry het van die kwaadaardige glioom gewas, wat volgens Wikipedia2 ‘n breingewas is wat in die sentrale senuweestelsel begin met ‘n terminale 12 maande leeftyd verwagting.
Vir haar was die ergste, nie net die feit dat haar geliefde oom Charles nie meer lank het om te leef nie, maar dat hy, wat as ‘n ateïs groot geword het en nie die Here Jesus as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker ken nie, dalk so sal sterf. Die situasie is boonop vererger deur die feit dat sy sélf onlangs met ‘n aggressiewe vorm van borskanker gediagnoseer is. Om alles te kroon, tap haar besige skedule as publieke spreker, om mense wat deur kanker beïnvloed is hoop te gee asook die behandeling vir haar kanker, alle lewenskrag uit haar uit.
Sy het, ten spyte van haar eie omstandighede, gedoen wat sy geglo het die beste is om te doen – “As die krisistyd kom – reik uit – staan op – gaan!” Sy het al die kreatiewe maniere waaraan sy kon dink, gebruik gedurende die 12 maande om uit te reik na haar geliefde oom en as sy terugkyk was dit die heel beste ding wat sy kon doen. Daar was behalwe die uitreik om op ‘n emosionele manier vir hom te sorg ook die saak van sy redding. Sy het hom so lief gehad dat sy net eenvoudig nie kon dink dat hy nie glo in God nie. Sy het vir die regte tyd gesoek.
Net na sy eerste operasie wat ‘n groot verandering in sy beweeglikheid teweeggebring het, het sy ouder gewoonte haar planne verander en tyd gemaak om by hom uit te kom. Haar oom se vrou wat ‘n Christen was, het geweet dat June beplan om met hom te praat oor sy saligheid. Oom Chalres se vrou het dit so gereël dat hulle ‘n stilplek kon kry om te gesels.
Diegene wat al probeer het, sal saamstem dat enige gesprek met ‘n ateïs nie die maklikste is nie. Daarbenewens is hy as terminaal verklaar. Daar was egter genoeg wedersydse liefde en respek tussen hulle dat sy sommer prontuit met oom Charles kon praat oor geestelike sake. Sy was egter versigtig om nie net met die hele sak patats uit te kom. Sy het toe besluit om die saak te benader deur vir hom die volgende vrae te vra en hom kans te gee om te daarop te antwoord.
· Beskou jy jouself as ‘n ateïs? (Ja, dis waar!)
· Is jy oop vir ‘n gesprek oor God of nie (Ek is oop)
· Beskou jy jouself as ‘n intellektueel eerlike persoon? (Ek dink so)
· Sou jy jouself sien as ‘n soeker na kennis & waarheid? (Ja, beslis)
Nadat sy hierdie vrae gevra het, het sy ‘n groot stuk papier geneem en ‘n baie groot sirkel daarop getrek en die volgende gesê: “Kom ons sê dat hierdie sirkel al die kennis in die wêreld verteenwoordig. Alle formules, feite, geskiedenis, kulturele beginsels, mediese konsepte, musikale formasies en filosofiese beredenering. As die sirkel alle kennis in die wêreld verteenwoordig, dink ‘n bietjie watter hoeveelheid daarvan jy het oom Charles? Teken asb. jou sirkel in die groot sirkel.”
Oom Charles het gedink en ‘n klein sirkeltjie in die groot sirkel getrek. Toe het sy hom weer gevra:
· Jy beskou jouself as oop tot ‘n gesprek oor God en dat jy intellektueel eerlik en ‘n soeker na kennis is, nie waar nie? (Ja, ek het) Ek weet oom Charles is so!
· Kan dit dan moontlik wees dat God buite oom se klein sirkel van kennis bestaan? (hy het gedink – ek moet erken, dit is moontlik)
· As jy erken dat jy nie alles weet wat daar is om te weet nie en dat dit moontlik is dat God kan bestaan buite die sfeer van kennis wat jy het, is dit ook moontlik dat jy nie ‘n ateïs kan wees nie, maar eerder agnosties? Met ander woorde, jy weet nie of God bestaan nie? (Jy kan seker maar so sê)
· As jy agnosties is, kan dit beteken dat jou onsekerheid of God se bestaan ook kan verander in sekerheid – of Hy bestaan of Hy bestaan nie - en dat jou sfeer van kennis groter kan word? (nog nooit so daaraan gedink nie)
· As ‘n soeker na kennis en waarheid, sou oom belangstel om te hoor hoe ander se sfeer van kennis en begrip van waarheid ten opsigte van God uitgebrei het? (Ek reken so)
Op hierdie stadium het sy met hom gepraat oor ‘n paar mense wat hy goed ken en respekteer en wat tot redding gekom het en ‘n opregte Christen getuienis het. Hy het heeltyd instemmende geknik en bevestig dat elkeen van hulle ‘n noemenswaardige bydrae in sy lewe gehad het. Oom Charles het met intense belangstelling geluister en deelgeneem in die gesprek. Sy het verder verduidelik dat elke mens uit liggaam, siel en gees bestaan. Die liggaam is tasbaar, aards en sterflik en die siel en gees nie-tasbaar en onsterflik. Die liggaam is tydelik en bestem om te sterf, maar die gees sal vir ewig bestaan - vir ewig by God of verwyderd van God. Sy sê toe dat sy dit deel met hom, omdat sy hom liefhet en dat sy voel dat ‘n ewigheid te lank is om moontlik verkeerd te wees oor God se bestaan.
En toe verduidelik sy vir hom wat dit beteken om die ewige geestelike lewe te bekom.
Erken dat daar ‘n probleem is Soos wat jou en my liggame ‘n terminale siekte onder lede het, oom Charles, net so is ons gees ook terminaal siek van sonde en onvolmaak in ‘n sterflike toestand. Ons is almal van geboorte af in hierdie posisie en kan nie vanself daarvan vrykom nie. Ons kan nie verhoed dat ons sonde doen nie, maar ons kan iets doen aan die effek daarvan in ons lewens.
God het die inisiatief geneem om die probleem op te los.
Gestel iemand kon aanbied om sy gesonde liggaam te ruil vir oom se liggaam. Sou dit nie wonderlik wees nie! Daardie persoon sal in oom se plek sterf en oom Charles sal leef. Daar is ‘n God en Hy weet dat ons sterflik is en self niks daaraan kan doen nie. Die Bybel sê dat God sy sondeloos volmaakte Seun, Jesus Christus, gestuur het om die onvolmaakte en sterflike posisie waarin ons is te verruil vir sy volmaaktheid. Hy het as te ware ons sterflike liggaam geneem en vir ons die lewende liggaam gegee. Hy het die sonde op Homself geneem en aan ‘n kruishout gesterf vir ons.
Ons kan kies om deel van die oplossing te wees.
Ons moet egter eers ‘n besluit neem, wil ons God se oplossing vir ons probleem aanvaar of nie. As ons instem, dan moet ons ons verneder voor God en gewillig wees om ons sondes te bely en wegdraai daarvan af. Die Bybel sê dat as ons ons sondigheid en sterflikheid tenoor God moet bely, dan is God regverdig en genadig om dit te vergeef en ons van alle ongeregtigheid te reinig. Ons moet glo en bely dat Jesus die vergifnis van ons sondes deur God moontlik gemaak het deur sy kruisdood vir ons. As ons glo, sê die Bybel sal Hy ons red van ons sterflikheid en aan ons die ewige lewe gee.
God het ‘n wonderlike geskenk vir jou
God bied aan jou, oom Charles, die gawe van die ewige lewe deur geloof in Sy Seun, Jesus Christus. Jy mag dalk nie jou aardse liggaam behou as gevolg van die kanker nie, maar jy kan jou ewige geestelike lewe red deur in Christus te glo.
Toepassing: Kanker is so ‘n geweldig lewensingrypende siekte, dit laat by baie mense alle hoop kwyn. Maar wat van die siekte van sondigheid? Dit het dieselfde effek op die liggaam as terminale kanker, maar meer nog, ook die siel en die gees wat vir ewig verlore kan gaan. Om nie vir mense te vertel van die geestelike medikasie van die evangelie te gee nie, is net so ondenkbaar as om te hore te kom van ‘n kuur vir kanker en stil te bly daaroor. Kanker is erg en traumaties, maar dit kan vir ons die geleentheid skep om met ander te praat oor Christus. Dit maak nie saak of die persoon ‘n ateïs is, soos in oom Charles se geval nie, elkeen wat met kanker gediagnoseer is, sal die geleentheid bied vir liefde en sorg en te kan praat oor die siekte van die gees en die kuur van wedergeboorte. Oom Charles het so sy Here ontmoet en leef nou vir ewig!
Vrydag 24 April 2015
Vrydag 03 April 2015
Waarom is Goeie Vrydag goed?
Die herdenking van die lyding van Christus behoort nie bloot net ‘n een-maal-‘n-jaar-gebeurtenis op Goeie Vrydag vir Christene te wees nie, maar ‘n daaglikse realiteit om ons lewens te verander. Die apostel Petrus het gesê: “Omdat Christus dan vir ons na die vlees gely het, moet julle jul ook wapen met dieselfde gedagte, dat wie na die vlees gely het, opgehou het met die sonde, om die orige tyd in die vlees nie meer volgens die begeerlikhede van die mense te leef nie, maar volgens die wil van God.”
In Jes. 53:3-12 beskryf die profeet die werklikhede van Jesus se lyding: “Hy is verag en deur mense verlaat (v:3), ‘n man van smarte en bekend met krankheid (v:3), Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor (v:5), ter wille van ons ongeregtighede verbrysel (v:5) Hy is mishandel… soos ‘n lam wat na ‘n slagplek gelei word” (v:7). Jesus se lyding aan die kruis was ‘n plaasvervangende werk vir ons – die vernedering en lyding wat ons moes verduur, het Hy op Homself geneem en Jes. 53:11 sê: “deur Sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.” Jesus Christus, Hy wat geen sonde geken het nie, in wie se mond en hart daar geen bedrog gevind is nie, die sondelose Seun van God wat geen onreg gedoen het nie, het in Sy vlees onregverdige lyding verduur.
Omdat Christus vir ons die prys betaal het kan ons sekere gevolgtrekkinge maak en hierdie gevolgtrekkinge moet die wapenrusting van ‘n Christen se gedagtes wees. Omdat die Here Jesus in ons plek gely het deur Sy kruisdood het ons die vermoë om anders te dink oor sonde en lyding. Onverdiende lyding is vir Christene onafwendbaar – ons moet dis te wagte wees. Christene moet die regte verwagting van die toekoms hê. Lyding moet Christene nie onkant vang nie.
Hierdie laaste gevolgtrekking is die belangrikste en die hoofdeel van ons wapenrusting. Onverdiende Lyding is ‘n bewys dat ons besig is om met sonde af te reken. Kyk na die Here Jesus as ‘n voorbeeld hiervan in Romeine 6:9-10: “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
Die dood wat Jesus gesterf het, het Hy vir die sonde gesterf en die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Hoor wat sê Romeine 6:7: “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, so moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” Omdat Christus gesterf het en ons saam met Hom gesterf het, glo ons ook dat ons saam met Hom sal lewe en dat die sonde nie meer mag oor ons het nie. Dit is die goeie nuus van Goeie Vrydag!
In Jes. 53:3-12 beskryf die profeet die werklikhede van Jesus se lyding: “Hy is verag en deur mense verlaat (v:3), ‘n man van smarte en bekend met krankheid (v:3), Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor (v:5), ter wille van ons ongeregtighede verbrysel (v:5) Hy is mishandel… soos ‘n lam wat na ‘n slagplek gelei word” (v:7). Jesus se lyding aan die kruis was ‘n plaasvervangende werk vir ons – die vernedering en lyding wat ons moes verduur, het Hy op Homself geneem en Jes. 53:11 sê: “deur Sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.” Jesus Christus, Hy wat geen sonde geken het nie, in wie se mond en hart daar geen bedrog gevind is nie, die sondelose Seun van God wat geen onreg gedoen het nie, het in Sy vlees onregverdige lyding verduur.
Omdat Christus vir ons die prys betaal het kan ons sekere gevolgtrekkinge maak en hierdie gevolgtrekkinge moet die wapenrusting van ‘n Christen se gedagtes wees. Omdat die Here Jesus in ons plek gely het deur Sy kruisdood het ons die vermoë om anders te dink oor sonde en lyding. Onverdiende lyding is vir Christene onafwendbaar – ons moet dis te wagte wees. Christene moet die regte verwagting van die toekoms hê. Lyding moet Christene nie onkant vang nie.
Hierdie laaste gevolgtrekking is die belangrikste en die hoofdeel van ons wapenrusting. Onverdiende Lyding is ‘n bewys dat ons besig is om met sonde af te reken. Kyk na die Here Jesus as ‘n voorbeeld hiervan in Romeine 6:9-10: “omdat ons weet dat Christus, nadat Hy opgewek is uit die dode, nie meer sterf nie. Die dood heers oor Hom nie meer nie. Want die dood wat Hy gesterf het, het Hy vir die sonde eens en vir altyd gesterwe; maar die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God.”
Die dood wat Jesus gesterf het, het Hy vir die sonde gesterf en die lewe wat Hy leef, leef Hy vir God. Hoor wat sê Romeine 6:7: “Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe, so moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie.” Omdat Christus gesterf het en ons saam met Hom gesterf het, glo ons ook dat ons saam met Hom sal lewe en dat die sonde nie meer mag oor ons het nie. Dit is die goeie nuus van Goeie Vrydag!
Woensdag 17 Desember 2014
Jesus, die WAARDIGE Heiland
Met Kersliggies wat oral flikker en bekende
liedere wat oral weerklink, word ons herinner dat die jaar 2014 einde se kant
toe staan. Ons word ook herinner dat God Sy Seun vir ons gestuur het en so
bemoedig Hy ons met Sy wonderlike beloftes van verlossing! Paulus verklaar in 2
Kor. 1:20: “...hoeveel beloftes van God
daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God
deur ons.” Al die wonderlike beloftes van God word ons deel, nie deur ‘n
onpersoonlike medium nie, maar deur ons eie liefdevolle en persoonlike Heiland,
Jesus Christus. Die feit dat God al sy beloftes deur Jesus aan ons oordra, is
in lyn met die goddelike werkswyse.
Die Bybel is ryk aan grafiese beelde van
Jesus en sy persoonlike bediening aan ons. Jesus is bv. ons Herder! En nie
sommer enige Herder nie, die GOEIE Herder wat my eie persoonlike Herder is (Ps.
23:1), wat opofferend Sy lewe vir my aflê om my te red van die wolf, te versorg
in my behoeftes en om my te lei deur die dal van doodskaduwee (Joh. 10:11-16).
Die goeie Herder is ook die GROOT Herder, wat intree vir die skape om die vrede
tussen hulle en God te behou (Heb.13:20-2).
Psalm 23 beskryf so mooi die werk van die Groot Herder as hy sê dat niks ons sal
ontbreek nie. Of ek nou rus nodig het, dors is, verkwik wil word, leiding kort,
kameraadskap soek deur die dal van doodskaduwee, vertroos wil word, voeding
benodig, smag na oorwinning, volkome
vrede en vreugde wil hê, volmaakte voorsiening verlang en ‘n ewige tuiste soek,
dit alles sal Hy voorsien tot en met die dag as hy weer kom as die Opperherder
(1 Pet. 5:4) om ons te beloon. Tot dan,
wanneer Jesus ons kom haal, sê Jesaja 40:11
“Hy sal sy kudde laat wei soos ‘n herder; Hy sal die lammers in sy arm
vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”, en Jesaja
49:10 sê “hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die
fonteine van water.”
Dit is moeilik soms om te besluit watter
beeld van Jesus die beste is, want die beeld van die goeie, liefdevolle en
ontfermende Herder van die skape word so mooi aangevul met die beeld van Jesus
as die Rots, die Steunpilaar (1 Kor. 10:4) waarop Israel kon staatmaak in die
woestyn. Dawid besing die Here Jesus in 2 Samuel 22:2,3,7 as hy sê: “Die Here
is my rots, my vesting en my Redder; my God is my rots, by wie ek skuil.” (Ps.
18:2,31; 23:3; 61:3; 62:2,3; 78:20; verw.. Deut. 32) Om dit alles te kroon, het
Jesus verklaar dat Hy self die Rots, die rotsvaste fondasie van ons geestelike
lewens, die onbeweegbare hoeksteen en geestelike struktuur van die kerk sal
wees.
Liewe vriende, die werk van die Here sal
voortgaan. Jesaja sê dat “daar ... ‘n takkie (sal) uitspruit uit die stomp van
Isai en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra...” (Jes. 11:1). En Sagaria sê:
“Want die saad van vrede, die wingerdstok, sal sy vrug gee, en die aarde sy
opbrings lewer, en die hemel sal sy dou skenk; en die oorblyfsel van hierdie
volk sal Ek al hierdie dinge laat beërwe.” (Sag. 8:12) Jesus self het gesê: “Moenie vrees nie, klein
kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die
koninkryk te gee.” (Luk. 12:32)
Baie mense kyk na ‘n spruitjie of na ‘n klein kuddetjie (gemeente) en sien
swakheid en kwesbaarheid, maar God tree nie op volgens menslike prestasie en
verwagtings nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit is nie iets wat ons
kan voorspel, manipuleer of verydel nie. Wat ons wel weet, is dat ons hierdie
tyd van die jaar, met Kerstyd, onsself weer moet herinner aan wat Jesaja 9:5 sê
van ons Here Jesus: “Want ‘n kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee;
en die heerskappy is op sy skouer en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman,
Sterkte God, Ewige Vader, Vredevors.”
Mag ons in hierdie tyd van vreugde en opwinding rondom die geboorte van
Jesus, nie dink aan ons eie swakhede nie, maar
dink dat Jesus Christus ons Herder is, ons Steunpilaar, die Spruit van
die Here wat verseker sal uitloop op die bestemde tyd en dat Hy dié Leidsman en
Voleinder van ons geloof is. God is volwaardig goed!
Dinsdag 25 November 2014
Wie Staan Vir Die Here?
Eks. 32:25-26 Toe Moses sien dat die volk bandeloos was—want Aäron het hulle bandeloos laat word tot leedvermaak onder hulle teëstanders— het Moses in die poort van die laer gaan staan en gesê: Wie vír die HERE is, kom na my toe! Toe het al die seuns van Levi by hom versamel.
Die Here het Israel uit Egipte gered en was stelselmatig besig om hulle voor te berei om die slaaf-identiteit af te skud en ‘n nuwe identiteit aan te leer. ‘n Deel van hierdie verandering was om die wet van die Here te ontvang. Hulle het egter ongeduldig geraak en wou dinge op hulle manier doen. Wat as die een van die enkel grootste gebeurtenisse in die volk se geskiedenis moes wees, het een van die slegste oomblikke in die volk se geskiedenis geword. Hulle het ‘n goue kalf gemaak om God mee te vervang – ‘n nagemaakte god wat hulle kon sien and aan vat en nie ‘n God wat hulle laat vrees nie. Moses het hierdie bandelose gesindheid gesien en het dit gekonfronteer met die uitdaging: “Wie vir die Here is, kom na my toe!” Was dit nie ook Josua wat as leier van die volk vir Israel gesê het: “…kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die HERE dien.” (Jos. 24:25). Het die Here Jesus nie ook dieselfde uitdaging gebied nie: “Kom na my toe…” Die gemeente van Jesus Christus staan vandag voor dieselfde uitdaging. Wie vir die Here is, moet opstaan vir die Here en kom en dien, want as ons nie vir die Here opstaan nie, vir wie staan ons dan?
Sondag 16 November 2014
Daar is geen keer aan die werk van die Here nie.
Jes. 61:11 Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos ‘n tuin sy
gewasse laat uitspruit, so sal die Here HERE geregtigheid
en lof laat uitspruit voor die oog van al die
nasies.
Die gedagte dat die
bedieningswerk van die kerk en die gemeente nie aan die postmoderne mens se
verwagtinge voldoen nie, is besig om Christene se beskouing van die Here Jesus te
beïnvloed. Mense sien neer op swakheid en behoeftigheid, net soos die Jode met
Jesus. Hul is opsoek na die wonderlike en volmaakte. Swakheid, behoeftigheid en breekbaarheid word liefs
verruil vir dit wat blink, presteer en uitstaan bo die res. Die Bybel sê dat
dit juis die kleinlike en breekbare
Spruit of Takkie van die Here (Jes. 4:2; 11:1) is - dit waarop mense neersien
as swakheid - wat God sal gebruik in oorwinning. God sal nie volgens menslike vleeslikheid,
prestasie en verwagting optree nie. Die vrug wat op Sy werk sal voortspruit kan
nie verhinder, gemanipuleer of verydel kan word nie. Die Here gebruik juis die swakke
en behoeftige in Sy werk. Israel, net soos baie Christene vandag, wou met eie krag,
doelgerigtheid en ‘n mooi voorkoms hulp aan God se werk verleen. Maar God bied die
natuur, met die onkeerbare organiese en natuurlik groei prosesse om te
illustreer hoe deeglik Hy te werk gaan. Hy
sal Sy lof en geregtigheid op Sy manier laat uitspruit. Wat moet ons doen? Moenie angstig word nie, maar werk
geduldig saam met God se plan (Rom. 2:7; 8:24-25; 15:4; 2 Kor. 6:4-5; Gal. 5:5;
6:9; Kol. 1:11; Heb. 6:15; 10:36; 12:1-3).
Saterdag 08 November 2014
Genade, Onbeskryflik Groot! Maar hoe?
Ef. 2:7 …sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon
die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus
Jesus.
‘n Bekende Engelse prediker, wat probeer het om
genade te verduidelik, het die woord GRACE gebruik as ‘n akroniem vir “God’s
Remedy At Christ’s Expense”. Die wese van God se genade
word opgesom in drie hoofgedeeltes 1.) Rom. 8:31 “As God vír ons is, wie
kan teen ons wees?”; 2.) Ef. 2:8-9 “…uit
genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is
die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” en 3.)
Joh. 1:17 “…die wet is deur Moses
gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”
Genade is dus nie net 'n algemene en abstrakte konsep nie, maar reddend en behoudend. In die huidige dispensasie van genade, gee geloof in Jesus Christus gee ons toegang tot God se reddende genade en bied interaksie met die liggaam van Christus ons deel in die seëning van God se behoudende genade.
God het bepaal dat ons in Jesus Christus en deur die gemeente (sy liggaam), se woordbediening,
gebedsondersteuning en liefdesorg, die genade van God kan ontvang en ervaar.
Die wyse
waarop ons dus hierdie woordbediening toelaat, ons samewerking in gebed en ons
toewyding aan evangelisasie en sorgsaamheid, is direk eweredig aan ons belewing
van God se genade. Baie Christene kies vandag om eerder in die koue, buite hierdie konteks van God se reddende en behoudende genade te bestaan, as om die sogenaamde onvolmaaktheid van die gemeente te bedek met liefde. Mag die Here ons genadig wees.
Sondag 02 November 2014
1 Kor.
10:11 Maar al hierdie dinge het
hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie
die eindes van die eeue gekom het.
Ons almal het op een of ander stadium in
ons lewens iemand anders se voorbeeld gevolg, dalk toe jy as seun gekyk het hoe
pa die gras sny, of as dogter hoe ma koekies bak...mmm. Jy kon iemand se
voorbeeld navolg, want jy weet nie van nature hoe om te doen wat hulle doen
nie. Wat ‘n voorreg om iemand te hê wat vir jou ‘n voorbeeld stel!
Het jy
geweet dat daar een groep mense is wie die Bybel sê ons nié moet navolg nie.
Wat bedoel ek daarmee? Israel, volgens die Bybel, is beide ‘n waarskuwing aan
ons van die tipe dinge wat ons nié moet doen nie en ‘n voorbeeld van die dinge
wat ons liefs moet vermy. Israel het alles gehad: beloftes van God, die
Messias, die verbonde, die wet ens., maar wat hulle nie gehad het nie, was geloof
en gehoorsaamheid. Die dinge wat hulle oorgekom het en die posisie waarin hulle
tans verkeer, wys ons daarop dat God ons nie kan seën as ons moedswillig
ongehoorsaam is nie.
Die vraag is nou, watter voorbeeld stel jy? Onthou, sonder
dat jy weet kyk en luister mense na jou! Elke Christen moet daarop uit wees om
Christus se voorbeeld te volg. Sal God jou as ‘n goeie voorbeeld gebruik, net
soos Hy met Job gemaak het, of as ‘n slegte voorbeeld waarteen hy ander
waarsku? Daar is ‘n wonderlike seën daarin om ‘n voorbeeld vir Jesus te wees.
Teken in op:
Plasings (Atom)